Om in ‘n huis te bly sluit natuurlik meer in as om net eet- en slaapplek te geniet. Die tipe atmosfeer wat jou huis het, aan die binne- en buitekant, speel natuurlik ook ‘n groot rol in hoe ons (en ander mense) die huis ondervind.
Vandag se ontdekking hier op homify 360° is ‘n moderne skepping in Johannesburg wat ‘n atmosfeer van elegansie geniet deur middel van spasie, meubels, dekor, uitleg, ens. En dan praat ons nie eers van daardie lieflike agterplaas nie!
Loer gerus om bietjie inspirasie te kry vir jou eie huis se atmosfeer…
Die agterplaas van ‘n huis is mos waar mens in rus en vrede (en privaatheid) wil ontspan – so hoe lyk hierdie ontwerp vir jou?
Tesame met luukse spasie, bied hierdie skepping ook ‘n heel indrukwekkende stoep aan waar mens na hartelus kan sosialiseer en/of ontspan.
Moet nooit dink dat kleure nie ‘n groot rol in (of buite) jou huis speel nie. Kyk net na hierdie sitkamer se neutrale kleurskema; hoe rustig daardie ligte grys skakerings mens laat voel, en boonop ook hoe sterk hulle die bypassende geel laat uitstaan.
Volgens kleur sielkunde (wat baie mense presies navolg wanneer dit kom by hul huise se dekor), simboliseer geel energie, warmte, moed en vreugde, en word dikwels geassosieer met die volgende kenmerke: gemoed, vriendelikheid, sagheid, verwelkoming, opwinding, of avontuur.
Wat dink jy daarvan?
Dis mos nou hoe mens ontbyt, middagete en aandete (en die gereelde koffie, tee en glasie wyn tussenin) moet geniet: ‘n pragtige tuin uitsig met baie lig wat instroom.
En wat dink jy van daardie unieke daklig wat bo die tafel hang? Definitief nie ‘n ontwerp wat mens elke dag sien nie.
Lus vir baie spasie, ‘n mooi uitsig van groen landskappe en tonne vars lug? Dan stel ons hierdie stoepie in die agterplaas voor. Kyk net hoe baie geleenthede word hier gebied vir ontspanning!
Wat ons ook uit die veld slaan hier is al die materiale en patrone wat gebruik word om hierdie uitmuntende spasie nog meer op te tower. En natuurlik help daardie oulike swembad ook baie.
Gepraat van die swembad, kyk net watse pragtige fokuspunt is dit hier in die agterplaas; hoe daardie koel blou kontras inbring tussen die neutrale kleure van die huis en die vars groen van die erf. Selfs die huis kan nie anders as om sy groot deure en vensters oop te maak en ‘n uitsig te geniet nie!
Hoe is hierdie vir ‘n elegante leefstyl?
Vir nog meer styl en inspirasie, kliek deur na Die pragtigste huis in die Kaap.